Koffiekroeg… Koffiewroeg…? 

Nooitgedachters is lekker mense. Hoe dan nou anders? Ons bly in ‘n pragtige stad, ons het wonderlike weer, pragtige gesinne, wonderlike vriende. Hoe dan nou anders as ‘n suksesverhaal?

Die storie van ons koffiekroeg het begin by ‘n klein handjievol mense, drie gesinne om presies te wees, wat een aand (bykans ongenooid) by ‘n nuwe gesin in die gemeente opgedaag het. Eie koffie, eie bekers, eie melk, eie suiker in die hand. Dominee en al!

Die koffiekroeg-model het vereis dat ons elke tweede Vrydagaand by iemand nuut gaan koffie drink. Ons sou alles self voorsien, ons gasheer/gasvrou/gas-gesin moes net sorg dat daar genoeg kookwater in die ketel is. Ons het sesuur opgedaag, en sewe-uur weer die pad gevat. Vinnig.

Die gedagte was dat ons ons gemeentelede beter wou leer ken, en meer betrek. Die arme slagoffer-gesin is dan die volgende keer saamgesleep, en so sou ons bietjie bietjie groei. Of, so het ons gedink!

Binne die bestek van ‘n kwartaal het die koffiekroeg so gegroei dat ons nie meer in een huis kon kuier nie, maar op hierdie stadium is ons so begeester, dat ons sommer by die kerk bymekaarkom. Tans is daar meer as 22 lede op die “Koffiewroeg” Whatsapp groep, en ‘n totaal van meer as 45 lede.

… En wanneer ons praat van lede, bedoel ons dit wyd! Niemand is te oud of te jonk vir die Koffiekroeg nie,met twee van ons jongmanne wat onder ‘n jaar oud is. Oom Tertius Kriek het nie verniet gespot met die “voorplantingstafel” by die laaste gemeente-ontbyt nie. Die koffiekroeg groei, van buite EN van binne!

Om mekaar te leer ken smee bande, iets wat ons glo Christene moet doen. Jesus se prediking het gedraai om naasteliefde, en ons groep probeer dit uitleef. Die gevolg is dat lede van die koffiekroeg mekaar sommer terloops sal raak-eet vir ontbyt op ‘n Saterdagoggend by Bay West, of sommer net vir sommer ‘n braai sal hou. Die feit dat ons die bobaas slagter, bobaas braaier en bobaas vetkoekbakkers van PE in ons midde het, nou ja! Hoe gerieflik!

Maar wat gebeur by ‘n koffiekroeg? 

Die koffiekroeg vergader gewoonlik by die kerksaal op ‘n afgespreekte Vrydagaand so halfsewe. Belangstellendes is welkom om eenvoudig net op te daag (hou sommer hierdie bladsy dop, want ons sal hier konkel oor wanneer ons volgende kuier moet wees). By die kerksaal gekom, vergader die manne in die kombuis, en die dames skop vir ‘n slag hul skoene uit en kuier sommer net lekker saam. Diegene wat vroeg wil pad vat is meer as welkom. Kom in, drink ‘n koppie koffie, en kies weer koers, almal verstaan ons is maar besig! Gewoonlik pak ons teen agt-uur, half nege weer op. (Tensy ons braai. Dan maak ons geen beloftes nie!)

Wees gewaarsku: ons kinders is nie stil nie! Al wat ‘n kind is baljaar. Die jongmense (nou nie meer kleuters nie), speel saam met die kleintjies, maar sorg dat die kleingoed uit die moeilikheid bly. Dit is regtig ‘n geleentheid vir die ouers om sommer net lekker te ontspan.

Maar wat van die Bybelstudie? Wat van die teologie of die akademiese oefening wat ‘n mens by ‘n kerkgeleentheid verwag? 

Ons glo dat ons, as God se kinders, Hom ook dien deur naasteliefde. Die geloofsdaad by hierdie geleenthede kom deur die kennis oor mekaar wat ons opdoen. Ons deel in mekaar se leed, bou ondersteuningsraamwerke, vier mekaar (en ook ons kinders!) se suksesse en vreugdes. So, hoewel hierdie nie ‘n tipiese kerk-sametrek is soos baie mense verwag nie, voel ons ‘n diepe verbintenis met mekaar, soos die gemeenskap van die heiliges waarvan die geloofsbelydenis ons vertel.

Dus sommer net ‘n verskoning om te kuier? Beslis ja. Maar hier kuier ons as God se kinders saam!

Ons nooi u dus hartlik uit, kom neem saam deel. Bring u gesin. Bring die kinders en kleinkinders. Bring jul vriende, die kinders se maats… Kom val in by ons – u sal nie spyt wees nie!

Byeenkomste

Ons het pas ons byeenkoms op 31 Augustus afgesluit. Loer gerus later volgende week in vir fotos van die geleentheid! 

 

 

Fotos: 2017

Koffiekroeg 31 Augustus 2018