Ons Kerk

Die Nooitgedacht-storie kom van 1959 af. Ons deel graag:

AFSTIGTING – VANAF PE WES GEMEENTE 21 SEPTEMBER 1959

Dit was duidelik dat daar in hierdie uitgestrekte gebied genoegsame lidmate woonagtig was om ‘n nuwe gemeente af te stig. Finansieel was daar ook twyfel of die nuwe gemeente die mas sou opkom. Versoekskrifte is gesirkuleer en die uitslag het oorweldigend getoon dat daar ‘n behoefte was vir ‘n gemeente. Die naam van die nuwe gemeente sou oorspronklik PE-Welbedacht heet. Die nuwe dogter-gemeente is toe PE Nooitgedacht genoem aangesien die grond waarop die gemeente gevestig sou word oorspronklik deel van die plaas Nooitgedacht uitgemaak het voor die gebied deel van die Port Elizabeth munisipale gebied geword het.

Met afstigting ontvang die gemeente ‘n bruidskat van R7000,00 plus 3 erwe.

DIE EERSTE PLEK VAN SAMEKOMS

Die eerste bidure is gehou in ‘n skooltjie te Hartebeesfontein. Mnr. JTP Delport, die skoolhoof, het die gebou gratis aangebied as plek van samekoms vir die gemeente. Die kerkraad het egter besluit om ‘n gebou agter die destydse Lawrenson Motors, (Shell vulstasie in Kaapweg) waar woonwaens vervaardig was en wat in onbruik verval het, vir R40,00 per maand te huur.

EERSTE LERAAR WORD BEROEP

Ds. P. J. P. Hugo was een van die medeleraars by PE-Wes en is na die gemeente beroep. Ds Hugo aanvaar diens op 13 November 1959 en hy en sy gade vestig hulle in die huis wat as pastorie gehuur word te Gardeniastraat Linton Grange.

Loer gerus in op hierdie bladsy oor die volgende paar weke. Ons samel graag meer historiese inligting en fotos in, en is opgewonde om ons storie verder te vertel!